css templates

PDF ARGIEF


 2019 HARTKLOP ARGIEF - Januarie | Februarie | Maart | April | Mei | Junie | Julie | Augustus | September | Oktober | November | Desember


APRIL 2019

1

Klik hier vir PDF van 7 April

Liewe LIGweerkaatsers, die Lydensweke is amper besig om tot 'n einde te kom waar dit uitloop op Paasfees. Ons hoop dat elkeen van u die reis saam met Jesus in SY voetspore baie geseend ervaar.

Sondagoggend nooi Wilhelm u almal hartlik uit om saam te kom gesels oor die barmhartige Samaritaan. Ons almal ken die verhaal, ons herken onsself in die karakters in hierdie verhaal. Ek weet nie van u nie, maar ek het gevind dat die antwoord op watter karakter ek is, nie so eenvoudig is nie. Daar is ook 'n paneelbespreking met mense in ons samelewing wat hierdie verhaal ten volle uitleef - kom luister gerus. Laastens is daar 'n paar baie spesiale Godstories wat nie een van ons kan misloop nie!! Dus, maak seker u stel die wekker betyds, hierdie Sondag gaan voorwaar 'n fees van gelowiges wees. En o ja, daar is een BAIE groot verrassing ook!

Sondagaand is Anton weer aan die woord en alle tieners, ouers, jongmense, jonk van gees word genooi. Ons gesels saam oor die die "skip" wat Onrusgemeente is met die vraag: Is julle aanboord?

Mag elkeen van u hierdie komende naweek en week deur die oe van Jesus na mense kyk, waarlik mense raaksien waar hulle is, sonder vooroordeel. Mag uself deur hierdie ontdekking verras word.

Sien julle Sondag!

2

14 April PDF

Liewe Palmtakdraers, hierdie Sondagoggend gaan ons saam (soos ouds) met palmtakke vir Koning Jesus verwelkom met Hosannas!!! Kom juig saam met ons!

Wilhelm nooi u almal ook om saam te kom gesels oor ons laaste tema van die reeks: Van onvergenoegdheid na tevredenheid. Nogal 'n gewigtige onderwerp, want is ons altyd tevrede met wie ons is, wat ons het, waar ons is? Kan mens ware tevredenheid vind? Kom hoor wat Jesus vir ons wil leer daaroor.

Hierdie Sondag begin die groot Lydensweek. Ons stap van Maandag tot Vrydag saam met Jesus die pad na die kruis. Ons nooi u almal om vanaf Maandag tot Donderdag om 18h30 elke aand die meditasiedienste by te woon. Ons word stil, ons luister, ons hoor. U is welkom.

Goeie Vrydag se nagmaaldienste is om 08h00 en 10h00. Nooi gerus al u vriende, familie en bure na die dienste. U is almal baie welkom by die nagmaalstafel.

En dan ...

Volgende Sondagoggend gaan ons juig en sing en die opgestane Heer eer vir die oorwinning!

Wat 'n week om na uit te sien!!

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week die nabyheid van Jesus tasbaar voel. Mag u SY stem hoor en in SY voetspore volg, so naby dat die stof van SY voete op u voete val.

Sien julle Sondag!

3

21 April PDF

Liewe Mede-oorwinnaars in Jesus Christus, ons vertrou dat u almal die Paasnaweek se dienste saam met ons gaan geniet. Veral wanneer ons Sondagoggend kan opstaan met die woorde: Jesus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!! Dit is beslis soet en geseende woorde!!!

Ons nooi u daarom om Sondagoggend saam met ons te kom juig, sing, dans, LEEF! Ons is kinders van God wat in SY oorwinning kan leef. Nooi gerus u familie, vriende en bure en kom jubel saam met ons. U is baie welkom.

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week die waarheid, die boodskap, die LEWE deur u are voel bruis!

Sien julle Vrydag en dan Sondag!

4

28 April PDF

Liewe LIGweerkaatsers, altyd so na die Paasfeestyd en Groot Lydensweek, is daar so ‘n opgewondenheid wat steeds borrel in ons are. Ons kon verlede Sondag uit volle bors sing oor die opgestane Heer – wat ‘n fees!! Ons hoop u almal ervaar ook steeds hierdie borrelende HOOP.

Hierdie Sondagoggend praat ons oor skepe, in besonder ‘n vragskip. Ds Anton nooi u almal om saam te kom gesels oor Onrusrivier se skip met die vraag: “Is jy aan boord?!” Klink vir my ons kan uitsien na ‘n heerlike boodskap van wat ons kan gaan doen met hierdie HOOP en OORWINNING in Jesus. U is welkom.

Sondagaand het die jongmense besluit hulle wil nie ‘n aanddiens misloop nie, en die aanddiens is weer ingestel – wonderlik!!! Daarom nooi ons graag alle tieners, jongmense, ouers, wel – eintlik almal!! Kom gesels saam, sing saam, kuier saam. Daar is tot popcorn in die aande!! Sien julle almal daar.

Mag u elkeen die komende naweek en week vashou in die wete dat waarmee u ook sukkel, stoei, all uitdagings – dit is oorwin! Jesus het dit vir ons kom doen. Vind u troos daarin.

Sien julle Sondag!

 

< TERUG NA BO

Maart 2019

1

Klik hier vir PDF van 3 Maart

Liewe LIGweerkaatsers, volgende week begin ons met die Lydensweke en dit is dan asof ons net so bietjie kan briek aandraai, stilword en ‘n tyd van refleksie kan ingaan. Ek sien altyd uit na hierdie tyd, aangesien ons almal so woes wegtrek elke jaar! Mag u almal moeite doen hierdie jaar met die Lydensweke en daardeur die wonder van Jesus, ons Verlosser, net weer van vooraf ontdek.

Hierdie week ontplof die Hartklop net weer met geleenthede en Godstories – sjoe! Dit is waarlik ‘n riem onder die hart hoe mense vorentoe kom en sê: “Ek sal!” Alle eer aan God. Lees gerus ook van al die Lydenstyd simboliek en gebruike. Ons het ook ‘n skriftelike terugvoer oor ons gemeente se finansies (na verlede Sondag se mondelinge terugvoer) en lees die Program vir die week baie mooi deur sodat u niks van al die heerlike geleenthede misloop nie.

Ons heg ook ‘n nuwe maandelikse Gebedskalender aan. Bêre dit gerus in u Bybel en bid die hele maand saam met ons!

Sondagoggend nooi Wilhelm u almal uit om saam te gesels oor veranderinge en of mens regtig kan verander. Ek vermoed dit is ‘n vraag waarmee heelwat van ons al geworstel het.

Sondagaand is dit ons jongmense se beurt en die Belydenisaflegging. U is almal baie welkom om hierdie baie Spesiale geleentheid saam te kom vier.

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week tyd maak om stil te word by ‘n kruis, met die Woord in u hande, by ‘n waterstroom. Mag u die stem van u Vader duidelik hoor, asook SY trooswoorde.

Sien julle Sondag!

2

10 Maart PDF

Liewe LIGweerkaatsers, ons is tans besig met die Lydensweke en om in hierdie tyd in Jesus se voetspore te stap na die kruis. Verlede Woensdag het ons Aswoensdag gevier met palmtak-as op die voorkop. Mag hierdie reis vir u elkeen kosbaar en besonders wees.

Sondagoggend gesels ons saam met Michiel oor ons eerste tema van die kleingroepe 6 weke reeks: Van vrees na vrede. Ons almal besef dat daar soveel vrees kan wees agv wat tans in Suid-Afrika gebeur, dalk wat by ons eie huise gebeur of selfs in ons eie harte. Maar ons moedig u almal aan om Sondagoggend te kom en die goeie boodskap te ontvang: Daar is HOOP!! U is baie welkom.

Sondagaand word die hele gemeente genooi na ons Jeug se Praise & Worshipaand. Kom sing saam, kom juis saam, want ons stap die pad na kruis saam met Jesus, maar ons kan nou reeds juig oor die oorwinning wat reeds behaal is. Welkom!!

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week tyd maak vir die wonder van oop en vrye toegang tot God die Vader. Wat 'n voorreg!

Sien julle Sondag!


< TERUG NA BO

FEBRUARIE 2019

1

Klik hier vir PDF van 3 Februarie

Liewe LIGweerkaatsers, verlede Sondag het ons gepraat oor water, gekyk na water en selfs ons vingerpunte in waterbakke gedruk! Wat ‘n ondervinding om deel te kon wees van hierdie stroom van LEWENDE water.

Hierdie Sondagoggend gaan ons verder oor water praat, maar met die besef dat saam met elke druppel die emmer vol. Onrusgemeente se visie is nie verniet “Ons almal saam” nie. Hier glo ons aan spanwerk en elkeen wat sy deeltjie doen om ‘n GROOT verskil in die Koninkryk van God te maak. Daarom nooi ons u almal om veral hierdie maand van Februarie saam met ons te ontdek waar Onrusgemeente oral betrokke is en dien. Ons gaan ook vir u geleenthede deurgee van waar u kan inskakel. Lees dus die Hartklop fyn deur en kom kyk Sondagoggend na videos oor waar ons dien – u is baie welkom!

Mag u elkeen die warm welkom voel hierdie naweek en komende week – ‘n welkom wat van u geestelike familie af kom en van Vader God se oop arms.

Sien julle Sondag!!

2

10 Februarie PDF

Liewe LIGweerkaatsers, my hart loop oor van dankbaarheid en verwondering!! Toe ons besluit het om hierdie maand te fokus op Godstories en Geleenthede, het ek gedink ons sal seker ‘n hele paar goed kan insit – Onrusgemeente woel mos. Maar ek sit hier vanoggend totaal oorweldig deur die wonder van God en hoe HY deur mense ‘n groot verskil maak – elk op sy eie klein manier.

Daarom nooi ek u almal uit om verseker eers ‘n koffie of tee te skink (of iets koelers) en dan die Hartklop te vat en gaan lees hom rustig deur. Hy het absoluut ontplof met soveel plekke waar die Heilige Gees mense inspireer, waar nuwe geleenthede begin het, waar daar nuwe lewe is! Ek nooi u om dan ook saam met ons die Here te dank vir elke artikel, vir elke lyntjie, vir elke persoon en geleentheid. Kom ons bid saam vir die hele Hartklop, sommers so terwyl u lees. Mag u elkeen oor daardeur verryk word en dat u sal opstaan en net weet: Ek wil ook deel wees hiervan! Welkom, ons wag vir u!

Hierdie Sondagoggend nooi ons “teacher” Clifford u almal uit om verder saam te gesels oor water met die tema: ‘n Kerk van die eerste water. Kom ons verwonder ons verder hierdie Sondag oor die Lewende Water wat vanuit die Heiligdom kom.

Sondagaand is die Teentrix en jongmense weer aan om 18h00 en onthou, hierdie is beslis nie net vir jongmense nie, ons nooi graag alle ouers en wel, eintlik almal uit! Kom geniet die energie en opgewondenheid oor Jesus saam met ons.

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week tyd maak om oomblikke by water te gaan sit en u te verwonder oor ons Vader God. (Onthou om jou Hartklop saam te vat vir lekker bid!)

Sien julle Sondag!

3

17 Februarie PDF

Liewe LIGweerkaatsers, water is darem maar kosbaar en wanneer die son so warm brand sien ons hoe ons waterbakke en fonteine hier by die kerk al hoe leër raak soos dit verdamp. Dit laat my net weer besef dat water nie altyd bly waar dit is nie – dit moet opgevul word. In die gewone samelewing is dit vir party maklik – maak net ‘n kraan oop. Vir ander moet hulle ver stap en swaar dra om weer water aan te vul. Ek vermoed dit is so ook met ons geloof en ons verhouding met God. Ons kan sukkel, swaar dra, ver loop en jou voete seermaak om water te kry op ons eie paaie. Of, of ons kan gaan stilword, rustig raak, die Woord oopmaak en praat met ons Vader. En dan draai HY die kraan oop en vul ons weer tot oorlopens toe vol. Dis die wonder van ons Omgee-God!

Hierdie Sondagoggend nooi ons u almal uit om saam verder te gesels oor water. Ons stop by ‘n put, en luister na ‘n gesprek tussen ‘n man en vrou. U is almal baie welkom om in te luister.

Sondagaand is ons tieners en die aanddiens weer volstoom met “praise & worship”. Doen uself die guns en kom woon een aand by, u sal verstom, opgewonde en dankbaar staan oor die vreugde waarmee ons jongmense die Here dien.

Mag u elkeen tyd maak om by Vader se kraan te gaan drink hierdie komende naweek en week.

Sien julle Sondag!

4

24 Februarie PDF

Liewe LIGweerkaatsers, ons het hierdie hele maand al saamgesels oor waterdruppels, strome wat vloei, ons bedieninge en die verskil wat Onrusgemeente reeds doen in ons gemeente en gemeenskap. Dit was voorwaar 'n Godstorie-reis! Ons wil vandag graag aan die BRON van hierdie stroom water al die eer gee vir die LEWENDE WATER. Dankie HERE!

Sondagoggend nooi Wilhelm u almal hartlik uit om oor die emmer te gesels waarin ons druppels val. Dis 'n emmer wat of leeg is as daar nie genoeg druppels inval nie, of dis 'n emmer wat oorloop en oral rondom hom natmaak, verskil maak, lewe bring. Kom gesels gerus saam.

Sondagaand is Anton weer aan die woord by die Teentrixdiens en onthou, hierdie is 'n ope uitnodiging aan u almal. As u nog nie 'n aanddiens beleef het nie, nou is u kans!

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week die wonder van water en die LEWE wat dit bring, net weer vooraf besef en ons Vader God daarvoor dank.

Sien julle Sondag!

 

< TERUG NA BO

JANUARIE 2019

1

Klik hier vir PDF van 20 Januarie

Liewe LIGweerkaatsers, ek hoop u almal is net so opgewonde soos ek oor die Hartklop wat weer in druk is. Ek hoop u gaan ons eerste weergawe terdee geniet!!

Hierdie Sondagoggend nooi Wilhelm u almal uit om saam te kom gesels oor verskietende sterre (en ‘n vallende meteor!). Die van u wat Woensdagaand beleef het hoe jou huis en vensters skud en bewe van ‘n groot geknal, sal nou presies weet waarvan ons praat. Dit het ons net weer laat besef hoe nietig, klein en weerloos ons werklik is as jy gaan kyk na die groter heelal. Dit laat mens ook wonder of ons regtig ‘n verskil kan maak? U is almal baie welkom om saam te kom gesels.

Sondagaand nooi Anton u almal ook hartlik uit na die Teentrix aanddiens. U sal sien dat ons nou ook die “Teks van die week” vir die aanddienste op die agterkant van die Hartklop sit. U is baie welkom om ook saam te lees, mediteer en te luister na God se stem deur die week. Die van u wat graag die aande bywoon, kan dus nou ook meer voorbereid kom en saam kom luister en gesels – welkom!

Ons nooi u almal nou ook al uit na volgende Sondagoggend (27 Januarie) se baie spesiale diens. Ons gaan gesels oor ons jaartema – Strome van seen, die nagmaal word bedien en ons gaan iets baie spesiaal rondom water doen. Maak dus seker dat u nie hierdie diens misloop nie.

Mag u elkeen hier so aan die begin van die jaar – wat met vuur en ‘n letterlike KNAL weggetrek het, tog die vrede en stilte van ons Vader God midde-in dit alle beleef en gaan leef.

Sien julle Sondag!

2

27 Januarie PDF

Liewe LIGweerkaatsers, ons borrel behoorlik van opgewondenheid oor ons gemeente se jaartema: STROME VAN SEEN. Ons sien uit daarna om hierdie tema te beleef en gaan uitleef in 2019!

Hierdie Sondagoggend gesels ons saam oor 'n teks wat baie na aan ons harte le - Eseg 47:1-12. Daar lees ons van 'n stroom water wat van Vader God self kom, ons lees van bome, van vissers, van blare wat genesing bring.

Ons nooi u almal hartlik uit om saam met ons te kom aansit by hierdie stroom van LEWE. Ons gaan ook saamgesels oor hierdie stroom wat getuig oor die tekens van brood, wyn en doopwater.

Daar wag ook 'n hele paar wonderlike en baie spesiale verrassings vir u almal en ons nooi u om dan ook die tekens van nagmaal saam met ons te gebruik.

KOM!!! Bring u vriende, familie en bure en kom sit saam met ons in die skadu van bome langs die rivier van LEWE!

PS. Onthou ook die Teentrix Jeugaanddiens om 18h00 - u is almal hartlik welkom!

Sien julle Sondag!!


TERUG NA BO

Mobirise
Adres

Bergstraat 55,
Onrusrivier,
7201

Kontak

Epos: info@ngkonrusrivier.co.za
Telefoon: (028) 316-2116