Gesinsnagmaal

Ons vier Sondag die nagmaal, of soos my ouma altyd gesê het, die heilige nagmaal. Sy het iets verstaan van die erns van die nagmaal. Jy kom nie net en gebruik nagmaal nie: jy berei voor, jy dink oor Wie God is en hoe Hy is, jy ondersoek jouself, bely jou skuld en gebrokenheid voor die Here. En as jou kinders saam met jou nagmaal gebruik, moet jy eers weer met hulle gesels oor die nagmaal: hulle help om op kindervlak hulle skuld teenoor die Here te bely, of in kindertaal, om vir Hom jammer te sê.

Daar was al baie debatte in die kerk oor die kindernagmaal: het hulle reeds ’n skuldbesef? Kan hulle reeds skuld bely? Weet hulle al genoeg? Jare gelede moes ons as jong ouers hierdie vrae vir onsself antwoord. Ek het ontdek dat ek dalk net so min soos hulle die Here se genade verstaan; dat my skuldbesef ook dikwels kortkom en dat my kennis van God nie noodwendig so wonderlik is nie.

Daarom was die nagmaal vir my nog meer spesiaal. Ek kon saam met my vrou en kinders kom aansit by ’n maaltyd wat ek nie verdien nie – dis loutere genade. “Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my skuld gedra”. Elke keer as ek die brood en die beker in my hande hou, is daar vreugde en bewing. Ek, gewone, sondige mens, word ontvang as ’n eregas; ek word oorlaai met hartlikheid – my beker loop oor.

Ons nooi oud en jonk om hierdie Sondag saam met ons nagmaal te vier en na te dink oor die tama: Maak reg, Jesus kom by ons eet en oorslaap! (Luk 19:1-10).

Groete en mooi week!

Coenie

DOOPKURSUS—11 FEB 18:00 Almal welkom welkom—bespreek asb by die kerkkantoor. Navrae: Coenie of Anton

HALFTIME

Dankie vir almal wat ingeskryf het en bygewoon het! Ons kom weer Woensdagaand 18:00-19:30 bymekaar vir ons tweede sessie. Nuwe registrasies by die kerkkantoor. - Coenie

Dienssentrum

Basaar 22 Maart 2025


Onrusrivier Skaapvleis Bestellings:


Lam A (2/3) = R131.00 per kg (16-22kg)
Tweetand AB (2/3) = R121.00 per kg (25-35kg)


Slegs bestellings per whatsapp na volgende nommers:
Willie - 083 448 0822 of Margaret 076 852 8633


Aflewering einde Februarie indien genoeg bestellings, anders op basaardag.

Jeug en families