Ons vier God se menswording in Sy Seun, Jesus Christus. Vandag fokus ons op die vrede wat Jesus bring. Vrede wat nét Jesus kan bing. Dit is ‘n diep innerlike vrede vanuit die kruisdood en opstanding van Jesus Christus: Waar God en mens met mekaar versoen is, waar al ons sondes afgewas is, waar die volle prys betaal is en waar die Gees van God ons nuut en heel maak. Paulus sệ dit so duidelik in Rom. 8 v. 33: “Wie kan ons aankla, God self spreek ons vry.”
Dit is vrede te midde van wệreldse onvrede. Vrede terwyl God se kinders die dood in die oë kyk omdat Jesus die dood vir ons oorwin het. Hierdie vrede is dus ‘n stukkie van die Hemel wat aarde toe gekom het. Dit is ‘n Goddelike dimensie wat op aarde werklikheid geword het. Dit is heeltemal anders as die wệreld se vrede wat dikwels nie eers die papier werd is waarop die vredesooreenkoms onderteken is nie. Dit is ‘n blywende vrede wat God gee, omdat Jesus Christus die onvrede tussen God en mens kom wegneem het.
Hierdie vrede staan dus teenoor vrees vir straf en oordeel. Hierdie vrede is ‘n rus-vind in God self. Rus vind in die Verlosser, Jesus Christus self. Dit kom deur totale oorgawe aan en geloof in die Seun van God. Dit lệ in die versekering wat Jesus self gee: “Ek is die opstanding en die lewe, wie in My glo, sal lewe al het hy of sy ook gesterwe.” Joh. 11v. 25, en “Ek gee aan My kinders die ewige lewe, hulle sal nooit verlore gaan nie en niemand kan hulle uit My hand ruk nie…” Joh.10 v. 27.
Dit mag wees dat ek teenkanting ervaar omdat ek vir die eer en saak van Christus opstaan. Wanneer die vryspraak van Christus in my lewe ‘n werklikheid geword het, kan ek nie anders as om vir Sy eer te lewe en op te staan nie. Sou iemand aanstoot neem wanneer ek in liefde vir Sy Naam opkom, ook dàn bly die vrede van God in my. Ook dàn is ek veilig en geborge in God.
Die vrede van God in my dring my ook om ‘n vredemaker te wees. Om die gesindheid van Christus in my lewe sigbaar te maak. Dit dring my om te versoen met my medemens en die vrede wat ek in die liefde van Christus het, te leef en te deel. Dit laat my groter wees as kleinlike en menslike selfgesentreerdheid. Dit laat my die lig en die Goddelike vrede van Jesus oor ander uitstraal.
Mag die VREDE van God in Christus Jesus in hierdie Adventstyd deur ons almal in elke huis, straat en winkel sigbaar word. Michiel