Ek wil soos Jesus lyk!
Aan die begin van 'n nuwe jaar het 'n mens gewoonlik 'n klompie voornemens of drome (ideale) vir die nuwe jaar. Ek dink, hier aan die begin van die nuwe jaar, wil ons almal gewig verloor, meer oefen, meer tyd met ons gesinne spandeer, nuwe stokperdjies aanleer, gesonder leef, en nog baie meer. Die uitdaging is nou om die bul by die horings te pak en hierdie dinge te begin doen. Ek en Tersia sê altyd vir mekaar dat die moeilikste deel van hardloop is om op te staan en jou tekkies aan te trek. Drome moet oorgaan in aksie – dis die moeilike deel.
Ek wonder altyd wat die Here se droom of drome vir ons is. Ek glo Hy het 'n ander droom vir elkeen van ons se lewe – soms neem dit 'n leeftyd om dit uit te vind. Maar as ek die Bybel reg verstaan, is daar 'n droom wat Hy oor elkeen van ons droom: dat ons meer en meer soos Hy sal lyk. Daarom sal n goeie droom of ideaal aan ons kant wees, om te sê: Ek wil soos Jesus lyk. Dis groot woorde, en dit maak my effens bang. Maar ek wil waag om dit aan die begin van 2025 te droom.
Ons nooi al ons kinders, tieners, ouers, oupas en oumas uit na ons kinder- en gesinsdiens op 19 Januarie om 9:00 waar ons nadink oor hierdie droom. Ons begin met lof en aanbidding om 8:40, luister na Joos en Cara se poppekaspoppekas-storie, doop 'n klein babatjie, en gesels oor God se droom dat ons meer en meer soos Hy moet wees (Rom 8:29). Na die erediens is daar koffie en koekies in die maalruimte en 'n spesiale (lekker) koek vir al die kinders. Ons nooi jou/julle hartlik uit: kom kuier en aanbid saam met ons.
Groete, Coenie