Op verskeie plekke in die Bybel lees ons van ryk mense. Vanoggend is dan nou ook só 'n oggend. Ons staan vanoggend by Lukas 18 stil waar 'n ryk man (nogals 'n jong ene), werklik vir God gesoek het.

Jesus wou so graag dat hierdie pragtige jongman die ewige lewe moes hê en daarom het Hy hom met graagte vertel wat hy moes doen en gesê: Daar is een ding wat jy nog kortkom, verkoop alles wat jy het, gee dit aan die armes en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan hier en volg My .”

Die jongman het sy vraag gevra en sy antwoord verkry, direk uit die mond van die Seun van God. 'n Mens sou verwag dat hy met blydskap sou opspring om hierdie opdrag te gaan uitvoer om so gou moontlik die ewige lewe te bekom, maar nee, hy was geweldig geskok...

Sy oë het waarskynlik oopgesper en sy mond oopgeval. Hy kon sy ore nie glo nie. Hy was stomgeslaan, het nie 'n woord gehad om die Here mee te antwoord nie. Hy was bedroef. Dit was vir hom n verskriklike teleurstelling. Miskien het daar selfs trane oor sy wange gerol. Hy het nie verwag dat die prys só hoog sou wees nie. Hy het sukkelend weer sy voete gevind, omgedraai en met skouers wat hang weggestrompel sonder om weer terug te kyk.

Die waarheid is... hierdie jongman het sy besittings baie, baie liefgehad. Hy het hulle nie net in sy hande vasgehou nie, maar ook in sy hart. Nee, hy het hulle nie net besit nie, sy rykdom het hóm besit. Dit was vir hom ondenkbaar om dit alles te verkoop, die opbrengs vir die armes te gee en die Here te volg waar hy ook sou gaan. Hy wou nie dat sy rykdom nou al na die hemel  oorgeplaas moes word nie, hy wou dit vir homself hê, hier en nou. Hy het nie juis 'n verhouding met die Here begeer nie en om in die stofstrate agter Hom aan te loop, was nie sy visie van n goeie lewe nie. Hy wou omring wees deur sy baie besittings en só die lewe geniet.

Wat is die moontlike lesse wat ons uit hierdie ontmoeting van Jesus met die ryk jongman kan leer?

Kom ons dink Sondag oggend 'n bietjie saam hieroor.

Anton