Die Here het ons geseẽn met ‘n wonderlike Pinkster. Dit vorm deel van die reeks oor ons gestuurdheid as gemeente en as kinders van God. Die doel van ons volgelingskap en ons roeping in Christus is om Hom te verheerlik. Dit gaan alles oor die Koninkryk van God en Sy eer.

 Hierdie Sondag is dit juis waaroor dit gaan: God se doel met ons. Ons gaan vanuit hierdie perspektief ook fokus op die verkiesing en vir ons land intree. Dit is baie belangrik dat ons as gemeente en as kinders van God ook onsself in hierdie tyd voor die Here verootmoedig. Dit beteken o.a. dat ons selfondersoek sal doen en seker maak dat dit ook wanneer ons vir ons land intree, in die eerste plek oor God se eer en Koninkryk gaan. Dit is van die uiterste belang dat ons binne die wil van God leef en Sy wil soek terwyl ons ook Sy genade en seẽn afbid oor hierdie mooi land van ons. 

‘n Gemeente wat daarna streef om God te verheerlik, gehoorsaam Hom in die uitvoering van Sy roeping vir ons om Sy getuies te wees orals waar Hy ons roep en stuur. So ‘n gemeente het God bo alles lief en hulle naaste soos hulleself. Hulle soek daarna om God self hulle diepste begeerte te maak soos Dawid in Psalm 63 sệ: “Ek soek U o God, my God, ek dors na U …” Hulle gehoorsaam God in alles en vra die Heilige Gees om ook hulle gedagtes in lyn met God se gedagtes te bring. 2 Kor 10 v. 5. 

Hulle stel hulleself tot beskikking van die Here deur wie Hy kan werk en vrug dra vir Sy Koninkryk. Rom. 12 v.1 en 2 en Joh.15v. 1 – 17. 

Laat ons die Here vra om ons gedagtes te rig sodat ons kan onderskei wat Sy wil is en wat vir Hom goed en aanneemlik en waar is. 

Bespreek of dink na of dit vir jou moontlik is om in lyn met God se wil en tot eer van Sy Naam oor Suid-Afrika te dink en jou stem uit te bring op 29 Mei. 

Michiel