Ons almal dra 'n klomp geheime met ons saam – daar is dinge wat ons geheim hou ”. Ons is nie altyd so suksesvol om hierdie geheime te hou nie; om die waarheid te sê, ons blaker dit maklik uit. Iemand het gesê: Ek kan n geheim goed hou maar dis die mense vir wie ek vertel wat dit nie kan hou nie.
God is anders. Hy is geheimsinnig oor Homself. Daar is baie dinge oor God wat ons nie weet nie. Ons weet eintlik net dit wat Hy bekendgemaak het. Hy vertel nie stilletjies vir een van ons Sy geheime nie.
Soms wens ons ons het meer geweet. Ons wens ons kon dinge beter verstaan. Ons wens ons het altyd geweet waarom en hoekom. Ek het al baie gewens dat ek net vir 'n oomblik agter die gordyn kon loer – dalk sou ek dan vir mense beter antwoorde kon gee? Dalk juis nie. Ons moet berus by wat ons van God weet en wat Hy van Homself bekendgemaak het deur die Bybel en die natuur.