Vadersdag . . . om pa te word

Vandag is vadersdag. Ek het grootgeword in 'n huis waar ons hoë waarde heg aan dae soos vadersdag en moedersdag. My pa het altyd groot moeite daarmee gedoen – gewoonlik het dit saamgegaan met 'n heerlike ete. In ons eie huis het ons die vadersdag- en moedersdag tradisie voortgesit. Op moedersdag het ek en die seuns saam kos gemaak vir mamma; op vadersdag het hulle my bederf.

Maar vandag is ook jeugdag – strategies nie altyd so goed geplaas aan die begin van die skoolvakansie nie, want gewoonlik is die kinders en jongmense nie op jeugdag in die kerk nie. Maar dis steeds wonderlik dat dit saamval. Wat meer kan jy vir 'n jongmens gee as 'n goeie pa en ma? Wat meer kan jy vir 'n ouer gee as 'n goeie kind? Gelukkige kinders het gelukkige ouers en gelukkige ouers het gelukkige kinders.