Tema: Die genade van verposing.

Ons kom vandag by die laaste tema van ons reeks: Leef in Kontak. Na Francois Carr sewe hoof-stukke gewy het aan wat dit beteken om by Jesus te wees, sluit hy die laaste hoofstuk af met die tema: Rus. Dit is ‘n belangrike tema en dit is goed dat ons in ons reeks hiermee afsluit.

Die genade van verposing is deel van die evangelie.

Mahatma Gandhi het vanuit sy perspektief gesê: “Daar skuil meer in die lewe as om net die spoed daarvan te verhoog.” Die kerkvader Augustinus se bekende spreuk is steeds waar vandag: “My hart bly onrustig in my totdat dit rus vind in God.”

Eric Abbott skryf: “Omdat God die Skepper en ewige Onderhouer van alles is, kan ons maar soms ophou werk en rus, en ons voltooide sowel as ons agterstallige werk in sy hande oorgee. Dis nie ons wat die wêreld laat draai nie. Dit is Hy.”

Rus is nie net belangrik vir mense wat hard werk nie. Gelowiges wat probeer om toegewyd te lewe en alles reg te doen, raak ook later uitgeput en oorlaai. Godsdiens kan ook baie veeleisend wees. Jesus het daarin vasgeloop toe Hy met die Fariseërs te doen gekry het. Daarom het Hy ‘n paar keer van die dissipels weggebreek om op sy eie tot rus te kom. In Matt.11:28 het Hy die mense genooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee.”

Om tot rus te kom is tegelyk ‘n gawe en ‘n opdrag. Ons dink Sondag hieroor na. Mag ons die wonder ervaar om innerlik tot rus te kom, sodat ons ook in ons omgang met mekaar met meer deernis en begrip kan optree. Om mekaar se harte te kan hoor, is die dieptepunt van die liefde…

Seënwense, Wilhelm