Hoeveel kry ons gedoen met dit wat ons tot ons beskikking het? Ek praat van talente, vermoëns, selfs die materiële. Ons sien só baie mense wat vir elke uitdaging wat verby kom sê: Ek kan nie, ek het te min, ek weet te min, ek is bietjie bang, netnou is dit nie goed genoeg nie.
Ek staan baie keer verstom as ek sien hoe vêr mense met min kom, en hoe mense met baie só min regkry. Het u al gesien hoe mense met ‘n klein begroting dinge doen wat ander net nie kan regkry nie? Of as so iemand sê sy huis is klaar betaal en hy het pas ‘n tweede eiendom gekoop – en dit met ‘n klein salaris. Dis mense wat baie met min gedoen kry.
U sien, dit is mense wat nie die woorde: “ek kan nie”, gebruik nie. `n Bekende afrikaanse uitdrukking is: kan nie is lankal dood van kruiwa stoot. As gevolg van “kan nie” is soveel mense totaal passief en lewer hulle nie veel van ‘n bydrae vir die samelewing nie, want “kan nie” is so ‘n lekker verskoning.
Hoe ver kom u met u bietjie?
Ons staan Sondag stil by die gelykenis in Matteus 25: 14 -30. In hierdie gelykenis sien ons baie duidelik dat God aan ALMAL iets gegee het... elkeen, ja, aan u ook! Daar is nie een mens wat oorgeslaan is toe God vermoëns en talente uitgedeel het nie.
Baie van ons voel dikwels of ons nie juis veel werd is nie, want ander lyk so goed en in beheer. As ons egter hierdie as ‘n verskoning gebruik om niks te doen of nêrens te kom nie, verstaan ons nie die Here se bedoeling nie.
Die Here verwag nie veel nie .... gaan grawe dit uit wat die Here jou gegee het, stof dit af en ge-bruik dit. Sê net ietsie van Jesus se liefde as iemand swaarkry. Bedien net ‘n klein bietjie op ‘n plek waar dit nodig is. Maak net ‘n klein verskilletjie – dis genoeg!
Anton