23 Jaar gelede, op 14 Oktober, vier ons die verjaarsdag van Onrusgemeente. Ons dink terug aan die wonderlike pad van genade waarop die Here ons geneem het en ons gee aan Hom alleen al die eer. Vanaf die aanloop, tot die afstigting, tot vandag, speel gebed en ons totale afhanklikheid van God ‘n sentrale rol in ons gemeente.
Ons het nagedink oor wat die doel en roeping van ons gemeente is. Waartoe roep en seẽn die Here ons?
Van die begin af was dit duidelik dat dit oor die Koninkryk van God gaan. Hy regeer en Hy is ons Koning. Hy roep en stuur ons as Sy medewerkers om vir Hom diensbaar te wees en Sy Koninkryk uit te brei. God se naam en eer is op die spel. Dit mag nooit oor ons eie koninkrykie gaan nie. Ons is nie hier vir onsself nie. Ons moet mekaar opbou en versorg sodat ons die Groter Saak van God se Koninkryk kan dien. Twee opdragte staan sentraal in die uitleef van die Koninkryk van God, nl: Sy groot gebod en Sy groot opdrag.
As gemeente behoort ons dus altyd te onthou dat ons aktief in alles die wil van God behoort te soek en ons daarvoor te beywer.
Ons moet gehoorsaam aan die leiding van die Heilige Gees wees. Ons moet aktief meewerk aan die uitbreiding van Sy Koninkryk deur die Evange-lieverkondiging aan alle mense te bevorder.
Wanneer ons geseën word, moet ons onthou dat die Here ons seën om te seën, ook in die wyer gebied van Sy Koninkryk. God se Koninkryk is binne sowel as buite ons gemeente.
Sy Koninkryk breek elke dag deur waar Sy kinders kanale is vir die sigbaarmaking van Sy liefde. Sy Koninkryk breek selfs deur in die donkerste dieptes van hierdie gebroke wệreld waarin ons leef.
Daarom het die Here ons hierdie visie gegee en streef ons daarna om dit deur middel van ondergemelde waardes uit te leef:
Ons almal saam in diens van Jesus Christus, oral, altyd en in alles, sodat verlore mense gered kan word, gebroke mense heel kan word en kinders van God gehoorsame dissipels van Jesus kan wees.
Die waardes wat die Here in ons gemeente gevestig het en waarna ons elke dag strewe: 1. Ons leef in totale afhanklikheid van God. 2. Ons streef na onvoorwaardelike Jesusliefde. 3. Ons is gasvry teenoor almal. 4. Ons werk saam as ‘n span. 5. Ons maak ruimte vir mekaar. 6. God roep ons na buite.
Opregte dank aan almal en elkeen wat hierdie pad saamstap. Mag die Here ons hierin help dat dit daagliks meer en meer in Sy gemeente van Onrusrivier sal realiseer.
Michiel .
Voorbidding:
“…Laat U Koninkryk kom…, Here, ook in die dieptes
waar ek U aanraking verlang…”
Ons dra die volgende siekes aan die Here se sorg op: Rassie Erasmus (Vermont), Suzette van der Merwe, Johan en Marinda van Schalkwyk, Bekker van Wyk, Ben Marais, Attie en Bets Eksteen, Doreen Pretorius, Lisa Kriel, Johan Lodewyks, Ria en Charlo Viljoen, Anita Sutherland en tannie Matie en oom Faan Strauss, Lynn Olivier, Berenice Auret, Bettie Erasmus, Charl en Hettie van Wyk, Fanie Schmidt en Isabel Schrade.
Ons bid ook spesiaal vir al ons jong mense wat verlede Sondag belydenis van geloof afgelệ het. Ons dank die Here vir elkeen van hulle. Ons bid dat die Here voor hulle sal uitgaan en hulle elkeen sal lei en seën om hulle volle potensiaal in Hom te ontwikkel sodat hulle tot groot seën vir Sy Koninkryk sal wees.
Ons dra ook elke Graad 12 leerder wat eindeksamen moet skryf, aan die Here op. Gee hul die krag van verstand en gemoed om hierdie taak aan te pak, en hul afhanklikheid van die Here te besef.
Ons bid vir almal wat worstel met die gevolge van een of ander vorm van middelafhanklikheid. Die persoon self sowel as sy of haar familie. Dit stel geweldige emosionele eise.
Ons bid ook vir al ons verswakte bejaardes en die mense wat hulle versorg, asook hul familie. Mag hulle die nabyheid van die Here en Sy vrede baie spesiaal en naby beleef.
Baie dankie vir u voorbidding. Dit word opreg waardeer.
Michiel, Wilhelm, Coenie en Anton
‘n God wat van stories hou
‘n Joodse legende
Daar word vertel dat God destyds verskillende nasies oorweeg het toe Hy moes besluit wie Hy sy uitverkore volk sou maak.
Hy het eerste met die Grieke gaan gesels: “As Ek julle God sou wees en julle my spesiale volk, wat is daar waarmee julle My sou kon vreugde gee?” “O, ons sal U eer met die beste kuns in die wêreld en met die uitnemendste denkskemas waartoe die mens in staat is,” antwoord hulle. “Ons groot denkers sal gedigte en dramas oor U skrywe.” “Dankie vir julle aanbod,” het God gesê.
Hierna is God na die Romeine toe met dieselfde vraag: “Waarmee sal julle My plesier kan gee as ek julle God is en julle my spesiale volk?” “O, ons sal U eer met die grootste, indrukwekkendste bouwerke van alle tye. Met die beste paaie en die mooiste tempels waarin U aanbid kan word,” was hulle antwoord. “Ons sal ter ere van U die wêreld verower.” “Dankie vir julle aanbod,” antwoord God en soek verder.
Toe dink God aan die Jode, ‘n klein, onbelangrike volkie in die Midde-Ooste. Weer eens vra Hy: “As ek julle God sou wees, en julle my uitverkore volk, sal daar iets by julle wees waarin Ek My kan verbly?” “O, God, ons is nie bekend vir ons kuns of bouwerk of ons militêre mag nie,” antwoord hulle. “Maar ons is ‘n volk van storievertellers. Al wat ons kan aanbied, as U ons God en ons u spesiale volk sou wees, is dat ons U storie dwarsoor die wêreld sal vertel.”
“Bod toegeslaan!” het God glimlaggend geantwoord.
Kom kuier saam met ons op Sondag, 27 Oktober by ons Gemeentebraai. Bring slegs jou eie eetgerei en iets om te drink, ons verskaf die res!
Laat weet asb die kerkkantoor van getalle.
Almal is hartlik welkom!
Op hierdie spesifieke Sondag (27ste), gaan ons kinders iets spesiaal bymekaar sit om met ‘n latere geleentheid aan ‘n kindersorgsentrum uit te deel. Kom loer wat hulle doen in die Teater. Indie jy ‘n mooi lint of twee het wat rondlê, bring dit saam. Ons gaan dit nodig kry!
Die malle gejaag van die 4de kwartaal is hier en voordat almal begin met Kersplanne en familie vakansies, wil ons tog vra om vir oulaas betrokke te raak by die kerk. Indien jy kans sien om as vrywilliger by ‘n bediening in te skakel, laat weet die kerkkantoor. Elke hand maak ‘n verskil!
Nota: Die laaste kerkraadsvergadering van die jaar is geskuif na Maandag, 18 November. Terugvoering sal aan die gemeente gegee word daaropvolgende week.
Gesamentlike biduur by die VGK Mount Pleasant om 16:00 op Donderdag 24 Oktober.
Kolwyntjie Teetuin is elke Vrydag oop vir heerlike koffie en eet-goed. Kom kuier saam op die Dienssentrum se stoep. Bespreking slegs nodig wanneer dit ‘n groep van 6 of meer is.
Siska 082 762 2732
Rummikub en ander kaart speletjies word elke Dinsdag en Donderdag vanaf 10:00 in die sitkamer gespeel. Ons nooit jou uit om te kom saamspeel, maar nie saak hoe goed of sleg jy dink jy is nie. Kom kuier saam!
Die Dienssentrum is Maandae gesluit, maar Dinsdag tot Vrydag is dit oop vanaf 08:00 tot 13:00. Skakel asb vir Hannie met enige vrae.